Die Braamfontein-dinamietontploffing van 19 Februarie 1896 was een van die ergste rampe in die geskiedenis van Suid-Afrika.
Trein Op Sondag 16 Februarie 1896 het ‘n goederetrein met ‘n vrag dinamiet van Leeufontein op die stasie van Braamfontein aangekom. Presies hoeveel goederetrokke betrokke was en hoe groot die vrag was, was van die begin af onseker. Waarskynlik was daar om en by 60 ton dinamiet wat in 2300 houtkiste verpak was. Met die aflaai die Maandag en Dinsdag op die muilwaens was daar allerhande onenigheid. Daarom staan die dinamiet vir 3½ dae in die bakkende Februarie-son.
Ontploffing Toe die aflaai op die Woensdag in alle erns begin, was daar ook rangeerwerk op die stasie aan die gang. ‘n Ligte botsing om 3:15 nm tussen twee treinwaens het ‘n geweldige ontploffing veroorsaak wat ‘n krater van ongeveer 70 m lank, 20 m breed en 8 m diep gevorm het. Die skokgolf is tot in Klerksdorp gehoor, ‘n 200 km weg, en tot in Pretoria gevoel. Ruite van huise 8 km ver het gebreek. Huise en fabrieke in Fordsburg, Newton, Vrededorp en Braamfontein is in puin gelê. Meer as ‘n duisend families was dakloos.
Lewensverlies Hoeveel mense hul lewens in die ramp verloor het, kon nooit agterhaal word nie. Slegs 76 lyke is geïdentifiseer. Verskeie doodskiste vol ledemate is begrawe. Meer as 200 mense het ernstige beserings opgedoen. Die meeste slagoffers was vroue en kinders. Daarby kom nog die aantal dooie perde en muile.
Oorsaak Die kommissie van ondersoek wat na die ramp aangestel is, kon nie die direkte rede vir die ontploffing vasstel nie. Daar was baie dubbelsinnighede en leuenagtigheid in die getuienis en daar was bewyse van skelmstreke, leuens en nalatigheid. Duidelik was dat ‘n reeks ongeoorloofde dade tot die ontploffing aanleiding gegee het.
Lees ook Grootste rampe in Suid-Afrika
Bibliografie Burman, Jose: Disaster struck South Africa. Kaapstad: Struik, 1971. https://www.flickr.com/photos/hilton-t/14315603415/in/album-72157644541535429/ https://www.theheritageportal.co.za/article/unanswered-questions-120-years-after-great-braamfontein-dynamite-explosion https://monument-sa.co.za/braamfontein-dinamiet-ontploffing/ https://hot1027.co.za/news/the-braamfontein-blast-three-pounds-one-mistake-and-a-city-changed-forever/ https://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0018-229X2019000100002 Schoeman, Chris: Nêrens veilig. Twee eeue van Suid-Afrikaanse rampe. Pretoria: Protea Boekhuis, 2021.
Kategorie:Rampe in Suid-Afrika *