Drie-en-twintig skoolkinders het op 28 Januarie 1970, om 14:15, in die Henley on Klip-skoolbusramp omgekom toe 'n postrein hul stilstaande bus op die Highbury-spoorwegoorgang te Henley on Klip in Suid-Afrika getref het. Die skoolbus het wel by die oorgang gestop, maar toe dit weer vertrek het die enjin op die oorgang gestol en die busbestuurder, Mnr. Koekemoer, kon dit nie weer aan die gang kry voor dit deur die naderende trein getref is nie. Benewens die sterftes is 'n verdere 16 kinders ernstig in die ongeluk beseer. Slegs die busbestuurder en 2 leerlinge het ongedeerd ontkom.

Die skoolbus was van Hoërskool Dr. Malan en ander skole onderweg, en etlike slagoffers was in Daleside woonagtig, soos ook die matriekleerder Johan le Roux (17) wat daarin geslaag het om twee ander kinders, Petrus van der Walt (8) en Willem Nel, deur die busvensters te stoot voordat hy self gesterf het. 'n Straat in Meyerton is na hom vernoem, en hy is postuum met die Wolraad Woltemade-toekenning (Silwer) vereer. 'n Gedenkteken met 23 wit kruise en 'n klippiramide met die kinders se name op, is aan die einde van 'n oprit uit Bokmakierieweg geleë. 'n Verdere gedenkteken is by Laerskool Japie Greyling (tans Randvaal Primary) opgerig.

Kyk ook Henley-on-Klip, 'n rolprent oor die ramp Westdenedam-ramp van 1985

Verwysings

Kategorie:Rampe in Suid-Afrika Kategorie:Vervoer in Suid-Afrika